Op Woensdag, 20 Julie 2016 is die ‘n besonder goeie Merinodag aangebied in die Philipstown distrik. Ses Merinoklubs het deelgeneem aan die eerste “Interskou kompetisie tussen Jongooiklubs”, naamlik Philipstown, Kraankuil, Middelburg, Noupoort, Britstown en Modern Merino (Hanover, Philipstown, Colesberg).
‘n Vol en interessante program het honderde kuddeboere, stoettelers en belangstellendes gelok. Die dag is amptelike afgeskop deur gasspreker Louis de Beer van Cape Wools, wat ‘n rooskleurige toekoms vir wolprodusente voorspel. Hierna het die ses voorsitters van die jongooiklubs kortliks oor hul klubs gesels. Gawie van Wyk van NWKV het vervolgens elke klub se agt ooitjies beoordeel en deurentyd interessante kommentaar gelewer aan die toeskouers om die ring.
‘n Indrukwekkende uitstalling van topgehalte ramme deur dertien stoettelers het baie aandag geniet. Van hierdie ramme sal tydens die Nasionale Merinoveiling te Grootfontein op 12 Augustus te koop aangebied word.
Skougangers kon tussendeur die verskeidenheid verkoopstalletjies besoek. Le Roux van Vuuren van Kokkedoorfaam het ‘n kosdemonstrasie aan ‘n groot gehoor, hoofsaaklik dames, aangebied. Daar was ook ‘n verskeidenheid eet-, drink- en soetgoed te koop aangebied, wat goed ondersteun is.
Na die beoordeling van die ooitjies het Guillaume Strydom ‘n skeerdemonstrasie gelewer en dr Frans Jooste (GeneCo, Philipstown) het ‘n insiggewende praatjie oor skaapbestuur en reproduksie gelewer.
Merino SA wens graag vir Diederick Vermeulen en sy span entoesiastiese helpers wat hierdie uitstekende Merinodag gereel het baie geluk.