Hoogste pryse van die jaar opNasionale Merino veiling

Die Nasionale Merinoram veiling het op Vrydag, 12 Augustus te Grootfontein Landboukollege plaasgevind. Die vier hoogste pryse op enige Merinoveiling vanjaar is by hierdie prestige geleentheid aangeteken. Die gemiddelde prys van die 78 ramme verkoop was ‘n uitstekende R23 513.

Andrew Jordaan & seuns van Montevideo Merinostoet, Cradock, het die hoogste en derde hoogste pryse van R160 000 en R150 000 behaal. Die Jordaans se gemiddelde prys vir hul ses ramme was ‘n allemintige R72 000!

Wellwood Merinostoet van Robert Rubidge, Graaff-Reinet, het ook uitstaande pryse vir sy aanbieding ontvang. Die hoogste prys was R155 000 en tweede hoogste R100 000. Wellwood behaal ‘n gemiddeld van R49 900 vir hul tien ramme op die veiling.

Ander verkopers wat baie goed gevaar het was Henri McNaughton & seuns van Charmac, Graaff-Reinet, met ‘n gemiddeld van R37 333 vir drie ramme; Andries Pienaar & seuns van Trumps Merino’s, Hanover, met ‘n gemiddeld van R28 714 vir sewe ramme; Groep 3 van Graaff-Reinet met ‘n gemiddeld van R28 600 vir vyf ramme.

Montevideo

Hierdie Merinoram van Montevideo Merinostoet, Cradock, het die hoogste prys van R160 000 behaal tydens die Nasionale Merinoveiling. Van links: JJ van der Watt (BKB afslaer), die koper Elandsberg plase van Hermon se Merino bestuurder, Abraham Cloete, adviseur DW Giliomee en eienaar Mike Gregor, verkopers Sanria (en voor), Andrew en Andrew (jnr) Jordaan.

Wellwood

Wellwood Merino’s van Graaff-Reinet het die tweede hoogste prys van R155 000  op die Nasionale Merinoram veiling ontvang vir hierdie ram. Van Links: Kopers Sandy & Pat Eustace van Himeville en Robert Rubidge, verkoper.